1 Mei 2023

Hier is ek weer. Nou net Martin Mans se konsert van 29 April geluister. Ek geniet altyd van sy orrelspel. Die Breepleinkerk in Rotterdam het 'n baie mooi orrel - tenminste wat klank betref. Eintlik my favourite orrel.

Die afgelope week was besig. Laasweek Woensdag (26/04) het ek vir Arie gehelp by die Boeremark se aandmark met sy wafelstalletjie. Ek het dit nogals geniet. Ek moes die bestellings neem en deurgee, en die betalings ontvang. Ons was 16h00 gereed, en dit het tot 21h00 aangehou. So vanaf 19h00 het dit begin besig raak. Daar is ongeveer 105 wafels verkoop - 5 minder as die vorige aandmark einde laasjaar. Die mark was gesellig besig met 'n lekker ontspanne atmosfeer. Saskia het heerlike spek en kaassous gemaak as topping vir die wafels. en dan was daar natuurlik nog allerlei ander lekker toppings. As julle wil weet wat die toppings is, gaan kuier gerus een Saterdagoggend by die Wafeltafel. Julle sal nie teleurgesteld wees nie.

Donderdag het ek gewerk en Vrydag af gevat. Ek het die twee dae omgeruil, sodat ons die langnaweek Bloemfontein toe kon gaan.Donderdagaand sou die Pretoria kinders kom eet. Monique was siek en daarom het Heleen hamburgers vir hulle gebring. Arie en Saskia met die 2 kleintjies was hier, en dan Jonathan. Ons het lekker hamburgers geëet met vlaskywe as nagereg - met oranje topping ter ere van Koningsdag in Nederland. Koning Willem-Alexander verjaar 27 April, en die tradisie is dan dat daardie dag fees gevier word oor die hele land. Dit kom al van toeka se dae af. Voor ete het Sietze, Arie, Jonathan en ek gou by Janneke se huis verbygegaan om die appelboom te gaan haal - die moes Bloemfontein toe. Ons het ook nog die resterende deel van die kaggelhout gelaai, dan kon dit ook sommer saam.

Vrydagoggend het ons die bakkie en sleepwa gepak met die laaste goed wat na Janneke en Vincent toe moes gaan. Hoofsaaklik potte met plante, die appelboom wat 3 m hoog is, die hout, 'n matras en fiets en nog 'n paar goed. Teen 11 uur is alles gepak. Ek het gou 'n 3 kwartier gaan slaap sodat ek darem 'n ent kon bestuur. By Kroonvaal het ons gestop vir middagete wat Heleen al tuis voorberei het. Ons het 'n uur of so vertoef. Ook gou diesel gegooi en toe het ons verder gery. So ent voor Kroonstad het ek die stuurwiel oorgegee aan Heleen, en het ek weer geslaap. Later het ons weer geruil. Ons was teen half ses by Janneke en Vincent. Oppad was die laaste uur of 2 baie bewolk, en het ons elke keer in die verte gesien hoe dit reën. Af en toe was daar ook bietjie reën waar ons gery het. By J&V aangekom het ons afgepak, en Vincent het vuurgemaak vir tjops braai. Daar is ook 'n bierpotbtood gebak en 'n knoffelbrood warm gemaak. Na die ete nog 'n pot koffie in die vuur. Dit het behoorlik gereën die aand. Kort na ons aangekom het het die wind begin waai en het 'n donderbui uitgesak. Later het dit nog 'n ruk net lekker gereën. Alles ruik so vars die volgende more.

Vincent sukkel nog met sy gekneusde rib. Hy het heelwat pyn, en dit beperk hom in sy werk. Hy het sy eerste job gedoen Vrydag. Hy het by 'n betonfabriek die masjiene skoon gespuit. Dit was harde werk, maar die kliënt was baie tevrede. More moet hy weer terug soontoe om klaar te maak. Hopelik sal hierdie werk uitloop in verwysigings en dalk 'n kontrak by die betonfabriek. Ons hoop so dat sy besigheid aan die gang sal kom en sal groei. Hy verdien dit.

Saterdag het ons na die Bloemfontein se boeremark gegaan - die Langenhoven mark. Die opset is redelik dieselfde is hier in Pretoria, maar in Bloem begin dit eers om 8 uur, terwyl dit in Pretoria al om 6 uur die oggend begin. Ons het eers die hele mark deurgeloop. Ek is nogals die een wat op so 'n mark goete koop, maar Heleen het ons almal verras. Sy het 'n boek en 'n outydse strykyster gekoop. Ek het niks gekoop nie! Na ons deur die mark is het ons die kosstalletjies waar ons verby geloop het, gaan besoek. Ek en Vincent het pap en kaiings geëet, Heleen en Janneke vetkoek. As nagereg het ek nog 5 pannekoeke gekoop. Ons het uiteraard ook koffie gedrink. Tuisgekom het ons nog 'n koffie gedrink, 'n mandjie gepak met koffie en eetgoedjies en die pad gevat. Vincent het laasweek 'n grondpad gevat en sommer net gery. Ons het dieselfde nou gedoen. Dit was baie modderig op plekke weens die reën die afgelope nag. Ons het lekker gespeel in die modder, en die bakkie was weer lekker vuil na die tyd. Die roete wat ons gery het was baie mooi. Ons het 'n klompie voëls ook gesien, en my jaarlys met 11 spesies aangevul. Ek stel elke jaar 'n doelwit van hoeveel spesies ek die jaar wil sien. Dis 300 spesies, en ek staan nou op 186. Meer as halfpad daar. Ons was weer teen half 4 of so tuis. Ek het 'n slapie gevang terwyl die res ontspan het. Vincent het kerrie gemaak en het dit voorberei in daardie tyd. Die aand het ons heerlik weggelê aan kerrie met rys en een of ander indiese brood. Die aand het ons net lekker ontspan. As trougeskenk sou ons 'n tuinstel koop, maar Janneke het gevra of ons nie eerder 'n wasmasjien kon koop nie. Dus toe doen ons dit - ek het sommer gou op 'n paar websites gaan kyk en 'n wasmasjien by HiFi Corporation gekoop, wat ons vanoggend gaan afhaal het.

Gisteroggend het Jonathan saam kerk toe gegaan in Bloemfontein. Dit was 'n groot stap - die eerste keer in 5 jaar wat hy 'n gewone erediens bygewoon het. Ekself het nie die oggend kerk toe gegaan nie - ek het geweet ek sal nie wakker kan bly nie en het toe oor internet ingeskakel. Na kerk het gaan slaap. Die middag het ons wraps geëet, en ek het begin siek voel. Vreeslik gebewe en so. Dus na ete in die bed en geslaap tot amper 7 uur. Ek 2 derdes van die erediens wat Jonathan sit en luister het, saamgeluister. So die sondag was meer slaap as wakker wees. Gelukkig was ek vanoggend weer beter.

Vanoggend het ons dus eers die wasmasjien gaan haal, en later vanoggend het ons gou twee bande - een van die Quash-Quai en een van die Brio reggemaak. Altwee het 'n slow puncture gehad. Dis darem nou ook gefix. Teen 12 uur vanmiddag het ons koebaai gesê vir Janneke en Vincent en in die pad geval terug huistoe. O ja, Vincent verjaar 3 Mei, dit was dus ook een van die groot redes hoekom ons Bloem toe is. Hy't 'n vleisbak van wit emalje gesoek en die het ons vir hom present gegee. Vrydagaand is hy sommer dadelik ingewy.

Ons was net na 5 tuis. Die verkeer was redelik besig maar alles het goed gevloei. daar was gelukkig nie ongelukke of enige iets van die aard nie. Dit was 'n baie lekker naweek. Ons het lekker gekuier en saam dinge saam. As die Here wil sien ons hulle die naweek van 15 Junie hier in Pretoria.

Opmerkings

  1. Wat 'klinkt' dit als een heel fijn, mooi weekend. Goede herinneringen met elkaar! Wat mooi dat Jonathan mee kon naar de kerk. Gefeliciteerd met de verjaardag van Vincent. 😘

    AntwoordVee uit
    Antwoorde
    1. De vertaling maakt er soms net iets anders van.....

      Vee uit

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

4 Mei 2024

12 Maart 2023

26 Januarie 2024